
=====================================================================
Afrikaans moet uitreik na Afrika (AV 4:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Afrikaans moet uitreik na Afrika

Gerald Shaw het in sy jare as politieke rubriekskywer 'n eie standpunt op die taalkwessie in die land gevorm.

IN die eerste deel van sy uitstekende driedelige outobiografie vertel Guy Butler   hoe hy as kind 'n gedig uit 'n voorgeskrewe Afrikaanse 
boek moes kies en van buite leer. Dit was in die twintigerjare in die laer skool op Cradock, die Oos-Kaapse dorpie waar hy grootgeword het.

Sy onderwyser, mnr. Buggie du Toit, 'n vurige Nasionalis, het van die seuns verwag dat elkeen 'n gedig van sy eie keuse voor die klas moes 
voordra. Klein Butler het 'n eenvoudige ballade gekies oor 'n doringboompie wat langs die pad gestaan het. Op 'n dag ry 'n swaar ossewa 
daaroor; maar die boompie is taai, herstel en groei tot 'n groot boom -- dog met die jare groei die kneusplek op sy stam al hoe groter.

"Butler het die gedig ("Vergewe en vergeet" van Totius) met gevoel en oorgawe voorgedra.

Daar het 'n doringboompie
 vlak by die pad gestaan,
 waar lange ossespanne
 met sware vragte gaan ....

Hy het ingenome gaan sit, vol verwagting dat hy geprys sou word, want hy het die gedig foutloos voorgedra. Maar Du Toit het hom fronsend 
aangegluur.

"Butler, jy het 'n gedig gekies wat g'n Engelsman ooit behoort voor te dra nie. Ek haat mense wat die kant van die vyande van hul volk 
kies."

Soos Butler dit vertel   [1] , het Du Toit daarna besef dat die Butler kind salig onbewus was van die allegoriese betekenis van die gedig, 
en hy het dit toe aan die klas verduidelik. Butler het huis toe gegaan en aan sy pa vertel wat Du Toit ges het.

Butler se pa het vir hom ges dat die Anglo-Boereoorlog die ergste fout is wat die Britte ooit gemaak het; en dat mense 'n lang geheue het 
vir behandeling en 'n kort geheue vir bevoordeling.

Sy klas het van Buggie du Toit gehou; Butler onthou hom as "not a bad old chap". Maar die gesindhede van 1920, soos weerspiel in sy 
reaksie op Butler se voordrag van "Vergewe en vergeet", kan nie in die negentigerjare nog algemeen wees nie.

Ek sal daarom niemand aanstoot gee nie, hoop ek, as ek my net soveel reg as elke ander Suid-Afrikaner toe-eien om die Afrikaanse 
letterkunde te lees en te geniet, en om te beklemtoon dat hierdie ryke erfenis ewe veel myne is as enigiemand anders s'n -- as 'n Suid-
Afrikaner, maar ook as 'n lid van die menslike geslag.

Dit is dus my uitgangspunt in my antwoord op 'n versoek om uit die oogpunt van 'n Engelssprekende te skryf oor Afrikaans en die Afrikaner 
se kommer of sy taalregte op alle vlakke in Suid-Afrika gerespekteer sal word. Afrikaans word deur die SABC en elders afgeskeep. Daar is 
klaarblyklik 'n neiging in die Regering en administrasie om Engels ten koste van Afrikaans en die inheemse tale te begunstig.

In die huidige omstandighede lyk dit vir my egter of militante politieke veldtogte om Afrikaans te beveilig nie toepaslik of effektief sal 
wees nie. In hierdie verband stem ek grotendeels saam met die brief van 'n jong Afrikaanse student in Londen, Jan Keyter van Niekerk,   in 
Afrikaans Vandag van Maart 1997 ("Hoekom stry?).

Die belangrike vraag is tog seker of die Afrikaanse letterkunde gelees en geniet word soos dit hoort, of die werke van die Driemanskap en 
M.E.R. tot by Van Wyk Louw en Breytenbach en die nuwe jong romanskrywers deur die huidige geslag gelees word, en deur komende geslagte 
gelees en geag sal word.

En die hooftaak is, soos Van Niekerk voorstel, om Afrikaanse skrywers en digters te ondersteun deur die bevordering van 'n aktiewe 
belangstelling in die Afrikaanse letterkunde: om Afrikaans te lees, Afrikaanse boeke te koop, Afrikaanse digbundels as geskenke te gee.

Eerder as om 'n aggressiewe "taalstryd" van stapel te stuur, reken hy, sou 'n baie meer effektiewe metode om respek vir Afrikaans te 
bevorder, wees om die taalregte van ander te respekteer en te bevorder -- sonder om iets in ruil te vra of te verwag.

Van Niekerk se voorstel herinner my aan die gebruik van een (eentalig Engelssprekende) minister in die nuwe Regering wat, waar hy ook al 
optree, sy gehoor groet met een of twee frases in die taal wat die algemeenste in die besondere geweste gepraat word, en daarna in Engels 
met sy toespraak voortgaan. S 'n simboliese gebaar spreek boekdele en lei tot onderlinge respek en waardering.

Van Niekerk vra: Hoeveel Afrikaners praat selfs net 'n bietjie Xhosa of Zoeloe?

Natuurlik bestaan situasies waar 'n beroep op die howe, of drukgroepe en ander politieke metodes effektief kan wees wees om die gebruik van 
Afrikaans te laat geld op ander gebiede as die estetiese -- in die openbare administrasie, in die handel en op ander terreine van die Suid-
Afrikaanse lewe.

Vir my lyk dit egter of dikwels mr bereik sal word met indirekte metodes, Sonder om aanstoot te gee, moet 'n mens erken dat Afrikaans vir 
baie swart Suid-Afrikaners die pynlikste en onaangenaamste assosiasies en herinneringe oproep.

Dit is die gevolg van die toepassing van die paswette en ander kwaai diskriminerende wette deur 'n polisiemag en 'n amptenary wat 
hoofsaaklik Afrikaanssprekend was.

Gevolglik sal 'n militante partypolitieke veldtog om Afrikaans se regte te beveilig waarskynlik kontraproduktief wees, en slegs 'n 
ongelukkige assosiasie van Afrikaans met 'n verdrukkende apartheidsisteem versterk.

Die ergste wat vir Afrikaans en trouens vir draaglike taalverhoudinge in Suid-Afrika sou kon gebeur, sou wees dat 'n politieke party die 
taalkwessie gebruik om steun vir sy politiek te mobiliseer.

Natuurlik is dit in orde om die belange van jou kiesers te dien. 'n Grootskaalse poging om Afrikaanssprekende wittes en kleurlinge in 'n 
politieke front teen die swart meerderheidsparty te verenig, kan moontlik goeie gevolge by die stembus h in 'n provinsie soos die Wes-Kaap 
waar die demografie so 'n taktiek begunstig. Maar die gevolge vir Afrikaans en vir rassevrede sou rampspoedig wees.

Die politiek van groepspolarisasie het Suid-Afrika tot op die rand van 'n burgeroorlog gelei. Dit sou dwaas wees om hierdie soort politiek 
terug te bring.

Aan die ander kant kan nasiebou nie oorhaastig aangepak word nie; dit kan nie bewustelik gekultiveer word nie. Soos Johan Degenaar ges 
het, is dit in hierdie stadium beter om 'n kultuur van demokrasie en verdraagsaamheid te bevorder.

In die sestigerjare het Guy Butler twyfel uitgespreek of enige twee van die groot bevolkingsgroepe die kans gegun sou word om mekaar op 'n 
doelgerigte of betekenisvolle wyse te aanvaar terwyl hulle die derde groep verwerp. By die historiese Sabra konferensie in September 1961 
in Bloemfontein het hy profeties ges: "Die enigste hoop is 'n nuwe idee van die Suid-Afrikaanse nasie wat, terwyl dit sekere 
groepshoudings toelaat en inderdaad aanmoedig, aan almal die volste moontlike deelname in die voorregte, verantwoordelikhede en belonings 
van die gemeenskap gun."   [2]

En N.P. van Wyk Louw het in 1959 geskryf:   "Afrikaans kan vitaal bly alleen solank as hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-
albei-kante-toe bly; solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wl maar tog ook altyd Europa."   
[3]

As ek 'n laaste gedagte mag uitspreek: vir my lyk dit of diegene van ons wat graag 'n kosbare kulturele erfenis wil bewaar, dit die 
effektiefste sal doen deur uit te reik na Afrika en die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap. Gerald Shaw het afgetree as assistent-redakteur 
van die Cape Times.

  [Terug] Karoo morning: an autobiography 1918-1935 deur Guy Butler; David Philip 1977; bl. 96.

  [Terug] Essays and lectures 1949-1991 deur Guy Butler; David Philip 1994; bl. 92.

  [Terug] Vernuwing in die prosa deur N.P. van Wyk Louw; Human & Rousseau 1961; bl. 143.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av437.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Junie 1997 /// Afrikaans: 'n Landswye opname (AV 4:3) /// 'n Lewe in 
diens van die Afrikaanse woord (AV 4:3) /// Die dinamiek van Afrikaans (AV 4:3) /// As die taal se vure kom uitbrand (AV 4:3) /// Dis ns 
storie (AV 4:3) /// S Afrikaans sy s in die sakebinnekring? (AV 4:3) /// Afrikaans moet uitreik na Afrika (AV 4:3) /// Koerantprojek 
stimuleer handevat-aksie (AV 4:3) /// Ek staan tussenin -- tussen alles (AV 4:3) /// Kuns in diens van taal? (AV 4:3) ///

